Marika du Toit-van Heerden

Jy het kanker, Mevrou

Vyf jaar gelede, so om en by die tyd wat ek nou hier skryf, stap ek die spreekkamer van ‘n sjirurg in ‘n bekende hospitaal in Pretoria binne.  Hy sê ek moet gou self gang-af gaan en my uitslae by die laboratorium gaan haal. Toe ek terugkom wag ek ‘n verdere 20 minute angstig in die wagkamer met die pakkie papiere waarop dokterstaal onverstaanbaar gedruk is.

Hy vat die hopie vasgekramde blaaie by my, kyk dit vlugtig deur en toe hy by die laaste bladsy kom sit hy dit hard op sy lessenaar neer, draai dit na my toe sodat dit vir hom onderstebo lê en trek vinnig ‘n penstreep onder die laaste sin op die bladsy: Malignant ductal carcinoma.

Hy kyk vir my en sonder om asem te skep (asof dit die soveelste maal is wat hy sy gebruiklike rympie vir die dag opsê) sê hy: Ja Mevrou, jy het borskanker en wat ookal jy besluit wil ek jou ten sterkste aanbeveel om onmiddellik beide jou borste te laat verwyder.

Nou, vyf jaar later kyk ek terug. Ek het nie die man se raad gevolg nie, ek het ‘n tweede opinie gekry en toe eerder dadelik met chemoterapie begin. Die mastektomie en bestraling het later gevolg. Ek het die pad wat voor my gelê het met my kop omhoog aangedurf, geweier om die leisels van my lewe oor te gee en elke dag gedoen wat ek kon – na die beste van my vermoë. Elke dag, een dag op ‘n slag.

Daar was seer dinge op hierdie pad. Ek kon nie saamgaan om my dogter universiteit toe te neem nie. Daar was onverstaanbare dinge op my pad. Hoe gaan ‘n agtjarige dogtertjie dood aan breinkanker? Daar was vele aanpassings wat ek moes maak. Ek kon byvoorbeeld nie meer langafstande hardloop nie, ek moes maar my kop oopkry deur kort entjies te stap. Dit was ‘n eensame pad ten spyte van die liefde en ondersteuning wat ek gekry het, want dit was my pad alleen. Dit was ‘n pad waar ek tyd gehad het vir diepe refleksie, vir nuwe verstaan van ou temas en een waar ek kon herbesin oor die oënskynlik onveranderlikes in my lewe.

Ek het geleer dat niemand in hierdie wêreld ‘n waarborg het nie, maar dat elkeen nóú het. Net hierdie oomblik. Ek het geleer dat elkeen sy eie hoop moet skep. In my skoonma se woorde: elkeen red homself, my kind. Ek het ook geleer dat soveel van my vriende veel meer as blote vriende is en ek het gesien dat sommige familie, familie bloot in naam is. En dis goed so.

Die beste was om weer te onthou dat my menswees my kan laat aanhou lag en laat waag en my gelukkig kan maak en op koers kan hou. Ek het geleer dat ek baie sterk is, op veel meer gebiede as bloot die fisiese.

So, ek reken wat ek graag wil sê is dat ek dankbaar is vir my lewe.

Elke dag.

En dat ek dink die inisiatief van Mosselbaai se sjirurge om kommunikasie met pasiënte te verbeter en die leemte wat pasiënte in daardie opsig mag beleef aan te spreek, bewonderingswaardig is. Dankie daarvoor.

www.woordvirwoord.co.za